Emmies Gee Om

Emmies gee om

In 2012 het ons die “Emmies Gee Om Projekte” geloods, want vir ons beteken ons skool se slagspreuk  Ons kinders is gereed, dat al ons leerlinge tot hulle volle potensiaal as mens moet ontwikkel, nie net op akademiese-, sport- en kulturele gebied nie, maar ook as ‘n persoon wat omgee, wat uitreik en wat ‘n verskil in die lewens van ander maak.

- Ralph Waldo Emerson

“The purpose of life is not to be happy. It is to be useful, to be honourable, to be compassionate, to have it make some difference that you have lived and lived well.”

Gedurende die feesseisoen het die Emmies uitgereik na die bejaarde inwoners van Pioneer Huis.

Die inisiatief het reeds in Oktober begin toe die bejaarde inwoners en inwoners van die ander ouetehuise in ons dorp genooi is om die skoolrevue gratis by te woon. Die skool se ouers het heerlike eetgoed en snoepgoed aan die spesiale gaste gegee om agterna aan te smul. Taljaard Taxi’s het ook by die projek betrokke geraak en die bejaarde gaste gratis na die revue vervoer.

In die feesseisoen is besluit om vir die bejaardes elkeen ‘n bederfpakkie op te maak en die skool se ouers en leerlinge het weereens gewys, hulle is omgee mense met die skenkings en bydraes wat alle verwagtinge oortref het. ABI het ook betrokke geraak en Coke-sakke, waterbottels, glase, Powerade-koeldrank en gebottelde water geskenk. Die leerlinge het boekmerke, kaartjies en prentjies gemaak en dit alles is in die bederfpakkies gesit.

Leerlinge van die skool het die pakkies by die Pioneer Huis aan die bejaardes gaan uitdeel. Dit het ons dag gemaak om die blydskap en opgewondenheid op bejaardes se gesigte te sien en te weet ons maak ‘n verskil.

2013: Skryfbehoefte projek – Nonediba Primary School

Ons het besef daar is heelwat leerders in skole in ons omgewing wat nie eers die basiese skryfbehoeftes het nie. Ons leerlinge is gevra om al die bruikbare skryfbehoeftes wat by hulle huis rondlê en nie meer gebruik word nie skool toe te bring. Die reaksie op ons versoek was oorweldigend.

Die skryfbehoeftes, meeste splinternuut – is Maandag, 13 Mei 2013 by Nonediba Primary School afgegee. Dit is ‘n plaasskool net buite Vanderbijlpark met 307 leerlinge. Met hierdie skenking kon ons dus op een slag ‘n groot groep leerlinge bereik en help ipv net ‘n paar leerlinge per skool. Die blydskap en dankbaarheid wat ons ervaar het kan nie in woorde beskryf word nie. Van ons skool se Gr 7- leerders het die dag saamgegaan om die leerlinge met lekkergoed te bederf en hulle kan nie uitgepraat raak oor wat hulle ervaar het nie.

Die leerders word in van die haaglikste omstandighede groot, maar hulle het so ‘n groot behoefte om te leer en iets van hulle lewens te maak, hulle positiewe gesindheid en deursettingsvermoë is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons. By hulle is daar elke dag dankbaarheid vir tot die kleinste ding.

Daar is nog baie skole en leerders in ons omgewing wat dieselfde behoeftes aan skryfbehoeftes het en ons hoop dat die ander skole in die Vaaldriehoek vir wie dit moontlik is ons voorbeeld sal volg en ook in daardie kinders se lewens ‘n verskil sal maak.

Blokkieskombersprojek – Verskeie Instansies

Die projek wat in Mei van stapel gestuur is, was ‘n reuse sukses danksy al die leerlinge, ouers, grootouers en families wat blokkies gebrei het en ‘n totaal van 85 gebreide komberse aanmekaar gewerk het. Ons het ook ‘n ruim bydrae ontvang van ‘n anonieme skenker wat 70 komberse geskenk het.

Van die komberse is op Maandag, 12 Augustus 2013, by Lewenslig sentrum vir breingestremde volwassenes oorhandig. Die sentrum help tans 42 volwassenes wat daagliks inkom en 9 dames wat inslaap. Dit was heerlik om te sien hoe positief en dankbaar hierdie mense is vir alles wat hulle ontvang. Ons het elkeen ‘n hele paar drukkies ontvang en is daar weg met ‘n gelukkige, maar nederige hart.

Op Maandag, 26 Augustus 2013, het ons tydens saalopening die res van die geskenkde komberse aan Solidariteit Helpende Hand oorhandig. Helpende Hand versorg tans 50 gesinne op die kleinhoewes asook ‘n kinderhuis. Hulle gaan die komberse versprei soos nodig.

Dit was vir ons belangrik om die gebreide komberse wat met soveel liefde gebrei is vir persone te gee wat dit regtig sal waardeer. So het ons op Donderdag 5 September, Huis Prinscilla en die versorgingseenheid van Siesta ouetehuis besoek.  Huis Prinscilla is ‘n pragtige netjiese plek wat vir terminale, gestremde of bedlêende pasiënte sorg en daar het ons vir elkeen ‘n kombersie gegee. By die versorgingseenheid by Siesta ouetehuis het ons vir ‘n oom en tannie gesing wat al oor die 100 jaar oud is en nog op en wakker is, wat ‘n voorreg. Ons het vir al die mense wat in rolstoele is en bedlêend is kombersies gegee.

Baie dankie aan elkeen wat ‘n bydrae gelewer het tot hierdie blokkieskombers projek. Julle bydraes het ‘n definitiewe verskil gemaak in iemand se lewe. Emmies julle is waarlik ‘n riem onder die hart.

DBV projek – Vanderbijlpark DBV

Die Gr 6-leerlinge van Laerskool Emfulenipark Primary het gedurende die 3de kwartaal ‘n projek geloods as deel van hulle PSW-klaswerk, waar hulle die ander leerlinge in die skool en die Emmie-gemeenskap meer bewus gemaak het van dieremishandeling en die wonderlike werk wat die DBV doen om mishandelde en verwaarloosde diere te  help. As deel van die projek het hulle die Emmie-gemeenskap genader vir kontant donasies vir die DBV, asook donasies van kos, komberse, speelgoed ens. vir die diere wat by die DBV aangehou word.

Die Emmie-gemeenskap het soos altyd nie teleurgestel nie en op Donderdag, 19 September 2013, is ‘n kontant bedrag en ‘n bakkie vol kos en ander benodigdhede aan die Vanderbijlpark DBV oorhandig.